![]() |
|
Karla du Plessis. Karla du Plessis, die jongste dogter van die groot woordkunstenaar, die immergewilde Afrikaanse liedjieskrywer Koos du Plessis, het as jong talentvolle liedjieskrywer en sanger 'n onmiskenbare en unieke stempel op die Afrikaanse musiekmark afgedruk. Karla se musiekstyl varieer van ligte jazz tot meer ritmiese popmusiek en meesleurende ballades. Karla du Plessis is op 30 September 1975 in Pretoria gebore. Sy is die jongste dogter van die gerekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Koos du Plessis en sy vrou, Mornay. Sy het twee ouer susters, Irma en Karien. Die ouderdomsverskil tussen die drie susters is gering – ongeveer ‘n jaar tussen elk. Karla het so te se grootgeword in die musiekbedryf en in ‘n musiekmilieu waar sing, kitaar- of ander instrumente speel en liedjies skryf algemeen en allerdaags was. In 1984, toe Karla net 8 jaar oud was, sterf haar pa in ‘n motorongeluk. Hy was ‘n kernfiguur in haar lewe en ‘n bepalende invloed op haar liefde vir musiek. Sy onthou sy dood as ‘n onuitspreeklike verlies. Karla het reeds op drie jarige ouderdom met klavierlesse begin, maar het nooit enige formele klaviereksamens afgele nie. Sy was meer daarop ingestel om van gehoor af te speel, gedigte te toonset en haar eie liedjies te skryf, as in die fyner detail van note lees. As gevolg van te veel ander buitemuurse aktiwiteite het sy klavieronderrig finaal laat staan toe sy in st 9 was. Karla het haar eerste oorspronklike liedjie geskryf toe sy maar net 4 jaar oud was. Die liedjie was getiteld ‘Jasper’ en het gehandel oor ‘n hond wat sy nooit gehad het nie. Liedjies komponeer en sing was vir haar eerste natuur en haar groot liefde. Karla se enigste ‘formele’ sangopleiding ooit was die vier jaar wat sy in ‘n streek kinderkoor en toe weer in ‘n streeks jeugkoor gesing het. Karla het vir ongeveer sewe jaar agtereenvolgend aangewys as een van die top 10-finaliste in die ATKV se ligte-liedjie-kompetisie, in die kategorie ‘eie komposisie’. Hier het sy die geleentheid gekry om elke jaar die verhoog met ‘n bekende Afrikaanse sanger te deel. Sy het ook aan Radiokompetisies soos Sterre 2000 en die immergewilde Crescendo deelgeneem waar sy elke keer as ‘n finalis geeindig het. Karla het in 1993 matrikuleer aan die Hoerskool Zwartkop in Centurion en is die daaropvolgende jaar Belgie toe om as Au Pair te gaan werk. Sy het gehoop om haar talente ook daar te gaan onwikkel. Sy’t egter by Franse Belge opgeeindig en in die suide van Belgie gebly waar Afrikaans nie goed sou afgaan nie. Eks-Suid Afrikaners het tog vir haar ‘n vertoning vir haar gereel in ‘n restaurant in Antwerpen. Karla het rondgetoer en so veel as moontlik van die wereld gaan sien. Die laaste maand van haar jaar-lange reis het sy in Duitsland by Duitse familievriende spandeer en dis hier waar sy “Trek my uit” en die meeste van die liedjies op haar eerste album geskryf het. Die jaar daarop moes sy inval by die koshuislewe aan die Universiteit van Pretoria, waar sy haar vier-jaar BAEd graad in onderwys voltooi het. In hierdie tyd het Salome Combrink haar genader om as een van die sangers in ‘n Koos du Plessis-produksie op te tree saam met sterre soos Petro Wessels en Suzette Eloff. Brug oor die sterre was baie suksesvol. Karla was vir langer as ‘n jaar besig met die produksie en meer op die pad as by die koshuis. Brug oor die sterre was natuurlik haar professionele verhoogdebuut en dis hier waar die publiek van Karla te hore gekom het . Karla, jongste dogter van Koos du Plessis, is “ontdek” - en sy en haar musiek het baie mediadekking ontvang. Sy gaan hou vir ‘n jaar lank skool. Sy besluit dat onderwys nie haar roeping is nie en aan die einde van die jaar tree sy uit. Laurika Rauch, wat bekend geword het toe sy Koos du Plessise se “Kinders van die wind” op ‘n televisie reeks sing, stap ook al ‘n lang pad saam met Karla. Nou vergesel sy vir Karla en lei haar na Select- en Hoezit platemaatskappye waar sy ‘n kontrak teken vir haar eerste album “Woordeloos”. Deur ‘n vriendin se toedoen gee Karla so saam met haar musiekloopbaan vir vier jaar na-uurse sangonderrig by die Laerskool Menlo Park se musieksentrum. In 2001 – twee jaar na haar eerste album, word Karla se tweede album “Rank”, vrygestel. Karla slaan ‘n nuwe rigting in. Danksy ‘n vriend se finansiele hulp en bystand besluit sy om op haar eie twee voete te staan, beweeg weg van die platemaatskappy en stig “Karla du Plessis Produksies”. Vanaf Maart 2004 is haar derde album “Steeds op vrye voet” – as ‘n genommerde versameluitgawe – slegs by haar vertonings beskikbaar en vier maande later word dit amptelik vir die publiek vrygestel. Karla en Coenie de Villiers was einde 2004 deel van die Kiwikasie fees in Auckland, New Zealand, waarna sy ook al singende deur die res van New Zealand getoer het. In dieselfde jaar deel sy die verhoog met van ons land se grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf, tydens die uiters suksesvolle “Skouspel”-vertoning wat jaarliks by Sun City plaasvind. Sy sing onder andere “Kinders van die Wind” (die lied wat haar pa geskryf en bekend gemaak het), in ‘n duet met die gewildste manlike Afrikaanse sanger, Steve Hofmeyr. Sy skuif haar sangloopbaan tydelik opsy en gaan sing ‘n nuwe deuntjie voor die kansel. Sy trou op 16 Desember 2005 naby Broederstroom net duskant Pretoria, met die besigheidsman, eiendoms-ontwikkelaar en haar jarelange vriend, (ook die stigter van Karla du Plessis Produksies), Jacques Reyneke. In 2006 maak sy deel uit van ‘n splinternuwe produksie getiteld “Vier Werke” waaronder die bekende komediant en aktrise. Liz Meiring, haar vrou staan as regisseur. Musiek vanaf Karla se nuutste album word met die musiek en talente van Jannie Moolman, Sunette Bridges en Hugo herverwerk tot unieke kombinasies en duette. Die vier gewilde kunstenaars se verskillende genres en style word uniek vermeng en vervolmaak – op die verhoog en ook op ‘n DVD wat in 2006 vrygestel is. Karla plaas haar musiekloopbaan in 2007 opsy en haar eerste kind, Katryn, word op 3 Maart 2008 gebore. Die tweede enetjie is oppad en sal November 2009 gebore word. Huidiglik speel Karla die rol van moeder, maar haar sangloopbaan gaan beslis nie hier doodloop nie. Sy sal weer musiek maak, sing en liedjies skryf, want musiek loop dik in haar are.
|
|